Die storie van LeesLisa

LeesLisa is my boeke-onderneming, en my jongste dogtertjie, Lisa is die inspirasie daaragter. Sy is gebore toe ek my werk as laerskoolonderwyseres bedank het om voltyds by my kinders te wees en om my drome na te volg. Lisa se geboorte en die verwesenliking van my kinderboekdroom het saam-saam gebeur.

Wat ek met LeesLisa wil bereik, is om met my unieke stories by kinders ’n liefde vir lees te kweek. Ek wil kinders weer aan die lees kry, en ek wil deur middel van kinderstories vir hulle moed vir die lewe gee. Hulle moet weer in hul drome begin glo, en ek wil graag dat hulle deur my stories kan voel alles gaan mooi uitwerk, al is die wêreld so deurmekaar en onverstaanbaar. My boeke is daar om hulle weer te laat lag. Die stories uit my pen is nog nie vertel nie, en ek skryf stories en raak temas aan wat die hart aanraak. Ek begin nie net ’n storie te skryf nie. Ek bid oor die stories wat ek moet skryf en dink lank daaroor na, want elke verhaal moet ’n dieper betekenis hê. As ek ’n storie skryf dan is dit met ’n absolute vrede dat dit die storie is wat vertel moet word.

Die perdeblom op my logo het ek juis gekies omdat dit alles waarvoor ek as mens en LeesLisa staan so mooi saamvat. Kinders is lief daarvoor om ’n perdeblom op te tel en met sterretjies in hul oë daarna te kyk, ’n wens te wens, te blaas en te kyk hoe die saadjies in die lug wegwaai. Die perdeblom is mos eintlik ’n onkruid, maar ’n kind se onskuld is so wonderbaarlik: hy of sy sien die blom bloot as beeldskoon. Hulle sien dit vir wat dit is en nie vir wat dit veronderstel is om te wees nie. Dis hoekom ek so mal is oor kinders – oor hoe hulle na die wêreld kyk. Almal van ons was eens op ’n tyd ’n kind, maar die wêreld se wreedheid het die kindwees in jou kom steel. En op ’n dag sien jy die perdeblom as onkruid en nie meer as die towerstaffie wat jy eens op ’n tyd gesien het nie. Boonop het dié plant’n magdom saadjies wat die lug in skiet as jy dit blaas. Mag my boeke die wêreld só invaar en saad skiet in kinderharte. Mag my boeke vir hulle iets spesiaal beteken. Daar is in Engels ’n wysheid oor die perdeblom:

Some see a weed, others see a wish.” Dis my inspirasie, en as ek dit op stoute Afrikaans mag vertaal: die een se strooi is die ander se goud – vra net vir Repelsteeltjie.

Oor my, die skrywer: Ek is een van ’n tweeling, gebore in Pretoria, en het grootgeword op Albertinia, ’n klein plattelandse dorpie. Daar het die klein plattelandse dogtertjie al van klein tyd af groot drome gehad. Die lewe vir my tot dusver was glad nie maklik nie, maar ek het ten spyte van moeilike tye altyd aan my drome vasgeklou en dit het my net meer gemotiveer om dit te bereik. God het daardie drome vir ’n rede in my hart geplant en Hy het my lank voorberei vir die dag wat ek my eie boeke kan skryf. Ek sal altyd vir mense sê om nooit op te hou droom nie. Selfs toe enige waarword van drome vir my nog baie ver in die toekoms was, het ek net bly vashou aan God se belofte dat Sy tyd perfek is en Hy sal nie vir jou ’n klip gee as jy vra vir brood nie. Jy moet net geduldig wag vir Sy perfekte tyd en Hom vertrou vir die plan wat Hy met jou lewe het. Hierdie is meer as net Marilie wat kinderboeke skryf, hierdie is ook ’n getuienis van God se grootheid, Sy onvoorwaardelike liefde en hoe Hy my voorberei het om sy lig te wees. Ek wil Sy ligdraer wees en mense en kinders inspireer om hulle volle potensiaal te gebruik en nie dat vrese hulle terughou nie.

Loopbaangewys het ek op Wellington onderwys studeer. Ek was nege jaar lank in die onderwys op Clanwilliam en is hier gevestig. As graad 1 onderwyseres was dit vir my ongelooflik om te sien hoe vinnig ’n kind in sy verbeeldingswêreld kan ingaan. En ek het toe al eerstehands beleef wat ’n groot impak stories op ’n kind het. Ek is getroud met my rooibosteeboer en ons het twee pragtige dogtertjies, Frances en Lisa. Rondom die tyd van Lisa se geboorte het ek my skryfvaardigheid geslyp by SA Writers’ College, waar ek twee kursusse met onderskeiding voltooi het. Vandag inspireer Frances, my oudste, my om stories te skryf en omdat ek nie my eie kindwees verloor het nie, luister ek vir daardie onskuld in hul manier van praat en dink. Dis daar dat ek ongelooflike idees kry.

Ek, Marilie en LeesLisa is een, want my persoonlikheid vloei oor in LeesLisa. Ek het my liefde vir lees en my liefde vir kinders gekombineer. My uitkyk op die lewe is om mense altyd beter te los as wat jy hulle gekry het, met ander woorde om positiwiteit uit te straal sodat daardie persoon goed voel as ek wegstap. Of dit iemand is wat ek goed ken, of die vrou voor my in die ry by Spar, of die karwag. Ek dink niemand is beter as die ander een nie; ons almal het ’n doel en ons is hier op aarde om mooi te kyk na mekaar. En dis dieselfde met my boeke. As ’n kind my boek gelees het, wil ek dat hy beter voel. En my boeke is nie net vir kinders nie, dis ook vir die ouer wat die boek voorlees. Mamma of Pappa wat vanaand voor slaaptyd ’n storie lees moet ook weer nuwe hoop kry.

 

 

Word deel van die LeesLisa familie en volg ons op sosiale media: