
Oor LeesLisa:
LeesLisa is my boeke-onderneming, en my jongste dogtertjie, Lisa is die inspirasie daaragter. Sy is gebore toe ek my werk as laerskoolonderwyseres bedank het om voltyds by my kinders te wees en om my drome na te volg. Lisa se geboorte en die verwesenliking van my kinderboekdroom het saam-saam gebeur.
Wat ek met LeesLisa wil bereik, is om met my unieke stories by kinders ’n liefde vir lees te kweek. Ek wil kinders weer aan die lees kry, en ek wil deur middel van kinderstories vir hulle moed vir die lewe gee. Hulle moet weer in hul drome begin glo, en ek wil graag dat hulle deur my stories kan voel alles gaan mooi uitwerk, al is die wêreld so deurmekaar en onverstaanbaar. My boeke is daar om hulle weer te laat lag. Die stories uit my pen is nog nie vertel nie, en ek skryf stories en raak temas aan wat die hart aanraak. Ek begin nie net ’n storie te skryf nie. Ek bid oor die stories wat ek moet skryf en dink lank daaroor na, want elke verhaal moet ’n dieper betekenis hê. As ek ’n storie skryf dan is dit met ’n absolute vrede dat dit die storie is wat vertel moet word.

Ons boeke:

LUKAS LEEU KRY LEEUMOED
Lukas Leeu is ’n vrolike leeutjie, maar uit die bloute begin hy vreeslik sleg voel. Sy klere raak te groot vir hom! Hy bly moeg en dors, en eendag raak hy sommer deurmekaar. By die hospitaal vertel dokter Martin Meerkat hom … Wat sê die dokter daar: dat hy ’n béét is? Leer saam met Lukas oor diabetes, en die wonderlike insulien-Ferrari!
’n Inspirasie-boek vir oud en jonk.

DIE MIELIE FAMILIE IN GEVAAR
Die Mieliefamilie is ’n lewendige klomp, en eintlik is hulle baie lief vir mekaar. Maar eendag raak hulle geduld met mekaar op. En wie loer nou daar by die venster in? Dis die nare springmieliemonster, en mense wat op mekaar skree en skel is sy kos. Pit vir pit, met elke skewe woord, vreet hy mieliemense op! Sussie Susan is die enigste een wat die gevaar raaksien. Kan sy haar gesin red voor dit te laat is?
’n Inspirasie-boek vir die hele gesin.